Trek daarom die wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil … (Efesiërs 6:13).
Nou die dag raak ‘n Europese vriend die volgende oor die lastigheid van ‘n koue winter kwyt ‑ iets waarvan hulle ruim ervaring het.
Die probleem met die koue, sê hy, is nie altyd net geleë in die slegte weer nie, maar in die manier waarop ons aantrek. Want dikwels trek ons eenvoudig net té yl aan, en dan bars en bibber dit maar.
By die aanhoor van sy woorde, kon ek nie help om die breër toepassing van sy eenvoudige waarneming te bedink nie. Want hoe dikwels krimp ons nie ineen, verskrompel of kla onophoudelik wanneer die rampe of versoekings van die lewe ons soos koue of slegte weer tref nie.
Nie dat dit op sigself nie uiters onaangenaam en ontwrigtend kan wees nie. Die kuns is egter om jou, wanneer die storms en aanslae van die lewe kom, doeltreffender daarteen te verskans. Om seker te maak dat jy, by wyse van spreek, goed genoeg vir die omstandigheid geklee en toegerus is.
Paulus se raad in dié verband is ‘n bietjie meer gewigtig: “Dat ons die volle wapenrusting van God met die oog op allerlei aanslae sal aantrek” (Efes 6:11). Maar dit kom op dieselfde neer.
Soos my vriend dit stel: “The problem is not the bad weather, but our clothing.”
Here, dankie dat U ons vandag weer oorklee met u krag en u genade en so teen die aanslae van die lewe weerbaar maak. Help ons om hierdie wapenrusting ook gewilliglik aan te trek. Amen
Carel Anthonissen