Ek is ‘n hulpelose mens, vol pyn, maar U, o God, sal my red en my beskerm. Dan sal ek die Naam van God besing, Hom met ‘n danklied prys (Psalm 69:31).
Die afgelope week kom ek op ‘n aangrypende klein boekie met die titel: “Dankbaarheid” af.
Die skrywer, Oliver Sacks, is ‘n bekende Amerikaanse neuroloog wat in seldsame siektes gespesialiseer het. Vrug van sy werk was die bekende boek “Awakenings” wat destyds met Robin Williams in die hoofrol verfilm is.
Ironies genoeg moes Sacks kort ná sy tagtigste verjaardag hoor dat hy self ‘n seldsame vorm van kanker het. Hy moes aanvaar dat sy lewe min of meer verby is. Ter voorbereiding van sy dood, skryf hy dan drie kort essays wat uiteindelik kort voor sy dood as die boek “Dankbaarheid” uitgegee word.
In die boek skryf hy onder andere:
“Ek kan nie beweer dat ek nie bang is nie. En tog bly my oorheersende gevoel dié van dankbaarheid. Want ek het liefgehad en is deur vele bemin. Ek het baie bekom en min teruggegee. Ek het gelees en verre lande besoek. Ek het nagedink en geskryf. Bo alles was ek ‘n mens wat alles diep beleef en gevoel het, ook ‘n denkende wese op hierdie mooie planeet. Net dít alleen was al ‘n wonderlike voorreg en avontuur.”
Nie alle mense kan in die aangesig van die dood só moedig skryf of praat nie. Oliver Sacks is egter in dié verband ‘n wonderlike voorbeeld.
Net soos die digter van Psalm 69 vir ons is.
O Here, ons ken die angs en moegheid van die psalmdigter. Maar soos hy, roep ons weer vanoggend na U, vertrou ons dat U ons sal beskerm. Amen
Carel Anthonissen