Ek wil vroeg opstaan, met harp en lier wil ek die rooidag wakker maak! Onder die volke wil ek u loof, Here, onder die nasies u lof besing (Psalm 57:9-10).
Nie almal deel die gevoel van diepe dankbaarheid wat die neuroloog-skrywer, Oliver Sacks, oor die lewe gehad het nie.
So word vertel hoe die bekende skrywer, Samuel Beckett, een helder en wonderlike lenteoggend in Parys saam met ‘n vriend gaan stap het. Die vriend was aangegryp deur die skoonheid van die dag en het Beckett gepols: “Voel jy nie ook op sulke dae dat jy gelukkig is om te lewe nie?”
Waarop Beckett skynbaar kalm, maar ietwat sinies, geantwoord het: “Nou ja, so ver sal ek nie gaan nie.”
In sy boek oor dankbaarheid verwys Sacks na dié storie, juis om te sê hoeveel anders hy as Beckett die lewe ervaar het. Ja, hoe dankbaar hy voel om, in die woorde van Nataniël Hawthorne, “die verkeer met die wêreld” elke dag te kon geniet. En dit deur die aandag en liefde van mense.
Ook op sonnige dae wanneer hy kon uitroep: “Hoe goed dat ek nie dood is nie!”
Moenie ‘n fout maak nie: As neuroloog het Sacks die verskriklike, donker kante van die lewe ook goed leer ken. Maar hy het gekies om te fokus op die positiewe, die sonkant van die lewe.
En om die gawe van lewe elke dag met dankbaarheid te ontvang.
O Here, dankie vir ‘n nuwe dag waarvoor ons U vandag weer wil loof en dank. Amen
Carel Anthonissen