Julle gawe is voor God ‘n offer met lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig (Filippense 4:18).
Egon Schiele word as een van die toonaangewende kunstenaars van Oostenryk beskou. Sy skilderye – deel van die sogenaamde ekspressionistiese tradisie – versier vandag die mure van Wene se bekenste kunslokale en kastele.
Maar sy roem en bekendheid het nie oornag of maklik gekom nie.
Die jong Schiele het aanvanklik glad nie op skool gevorder nie. As vyftienjarige het hy skool verlaat om, danksy die aanmoediging van familie, sy dieper passie, die skilderkuns, te gaan beoefen. Ander kunstenaars het hom onder hulle vlerk geneem en die publiek het algaande sy werk begin waardeer.
En só het hy binne ‘n relatief kort tyd as een van Oostenryk se voorste skilders na vore getree.
Maar dit was inderdaad van korte duur. Want drie maande ná sy vrou se dood, het hy op die jong ouderdom van 28 jaar aan Spaanse koors gesterf.
Tog bly sy kreatiewe nalatenskap, in kwaliteit sowel as in getal, merkwaardig. ʼn Mens kan byna nie glo dat hy in sy kort leeftyd soveel kon skep en vermag nie.
Maar dit is wat gebeur wanneer jy jou Godgegewe gawe en passie, ja, jou ware roeping in die lewe ontdek en omhels. Dan kom daar fokus en rigting. Ook ouderdom en tyd maak dan nie meer saak nie.
Boonop word jou gawe vir ander en vir God ‘n offer met ‘n lieflike geur.
Here, gee dat ek die gawes wat U my gegee het, sal ontdek en met oorgawe sal uitleef. Maak dit ‘n offer met ‘n lieflike geur voor U. Amen
Carel Anthonissen