Die oor wat hoor, die oog wat sien – Die Here het albei gemaak (Spreuke 20:12).
‘n Vriendin wat nou betrokke is by die opheffing van arm mense, vertel hoe sy die dieper probleem van onreg en ongelykheid ontdek het.
Dit was toe een van die sogenaamde agtergeblewenes op ‘n dag die moed bymekaar geskraap het om vir haar te sê:
“Dit is nie dat julle nie vir ons goed was nie, maar die probleem was julle het ons nooit regtig in die oë gekyk nie.”
Sjoe, wat ‘n aanklag, wat ‘n waarheid! Want om iemand in die oë te kyk, is om iemand regtig raak te sien, om hulle as medemense te herken, naastes, eweknieë. Mense wat juis as gevolg van julle verskille – hetsy kultureel of in terme van stand of agtergrond – jou lewe oneindig kan verryk.
Bloot omdat hulle mense is, net soos jy.
Ai, as ons mekaar maar net in ons mooi land met belangstelling en sonder skaamte of verwyte in die oë kan bly kyk. Watter verskil sal dit nie aan ons gees en aan ons saamleef kan maak nie!
Here, vergewe ons die baie kere wat ons ongesiens aan mense verby geleef het. Maak ons tog méér opmerksaam vir ander se nood. Gee ons die moed om mekaar lank en innig in die oë te kyk. Amen
Carel Anthonissen