Daar is een ding waarop ons trots is: ons gewete verseker ons dat ons oor die algemeen, en teenoor julle in besonder, opgetree het met die openhartigheid en eerlikheid wat van God kom (2 Korinthiërs 1:12).
Om mekaar as mense in die oë te kyk, sluit natuurlik veel méér in as bloot die herkenning van mekaar se waardigheid en trots as mense.
Dit beteken ook die vrymoedigheid om mekaar eerlik en openhartig te ontmoet. Allereers om mekaar se lewenstories te hoor en ander mense só beter te leer ken, te verstaan en veral te leer liefkry.
Maar hierdie liefde – en dit is dikwels die tweede belangrike aspek van so ‘n eerlike ontmoeting – sluit ook die vrymoedigheid in om waar nodig mekaar te vermaan. Presies soos Paulus op ‘n stadium met die gemeente in Korinthe gedoen het (2 Kor 1-2).
Want sien, op dié manier help ons mekaar oper en eerliker lewe, om ook ons eie tekortkominge, foute, vooroordele en onbewuste obsessies onder oë te neem. Dit selfs teenoor mekaar te erken.
Om mekaar dus eerlik in die oë te kyk, kan by tye uiters pynlik, selfs ongemaklik en spanningsvol wees. Maar hopelik sal dit altyd daartoe lei dat ons, soos Christus van ons vra, stuk vir stuk aan onsself begin sterwe (Matt 16:24-25).
Want daarsonder kan die nuwe lewe waar begrip, versoening en vrede tussen mense gebeur, beswaarlik posvat.
O Here, ons leef party dae sulke lafhartige en futlose lewens. Gee ons vandag weer die moed om ander mense voluit te ontmoet. Ook wanneer dit beteken dat ons eerlik moet praat en ons eie foute moet bely. Amen
Carel Anthonissen