Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde …” (Genesis 1:28).
Beatrice Harrison was ‘n Engelse tjellis uit die vorige eeu wat om verskeie redes baie bekend geword het.
Vereers was sy deel van ‘n uiters musikale familie. Sy en haar drie susters het op aandrang van hulle pa elkeen ‘n eie instrument leer speel en in eie reg bekende en beroemde musici geword.
Beatrice self was as tjellis só gereken dat sy op uitnodiging van die komponis, Edward Elgar, sy bekende tjellokonsert die eerste keer uitgevoer het.
Wat haar selfs nog bekender gemaak het, was haar spel saam met nagtegale in haar tuin in die dorpie Oxted. Waarskynlik het die klank van haar tjello hulle aangelok, want kort nadat sy begin speel het, het die nagtegale verskyn en saam met haar begin sing, met die gevolg dat hierdie tuinritueel vir haar ‘n gereelde instelling geword het.
Vandag nog bestaan daar opnames van hierdie merkwaardige samespel tussen Beatrice en haar tuin se nagtegale.
Hoekom die verhaal as ‘n meditasie gebruik? Omrede Beatrice Harrison ‘n interessante voorbeeld is van iemand wat die belang van hierdie oerkonneksie tussen mens en dier, mens en natuur, lank gelede reeds goed verstaan en beproef het.
Hierdie lewensbelangrike band of innige konneksie – ‘n mens kan dit selfs ‘n versorgende vriendskap noem – is iets wat ons in ons wetenskaplike eeu in ‘n groot mate verloor het. Dit lê aan die wortel van ons huidige ekologiese krisis.
As Christene behoort ons ook, net soos Beatrice Harrison, weë te soek om hierdie band te herstel en te bly koester.
O Here, ons weet nog so min van ons omgewing – van die groei en weë van dier en plant. Help ons om soos Beatrice Harrison, en ook ter wille van ‘n volgende geslag, inniger daarmee om te gaan. Amen
Carel Anthonissen