Julle moet die liefde nastreef (1 Korinthiërs 14:1).
Om liefdevol en geduldig te bly in ‘n konteks waar blatante onreg, korrupsie, opstand en geweld die hoogty vier, bly ‘n moeilike opgawe.
Die versoeking om bitter, sinies en onverdraagsaam te word, ook kwaad met kwaad te wil vergeld, is altyd daar, én groot.
As gelowiges is ons egter tot veel méér geroep. Dit is om ín hierdie sosiale wildernis gedurig weë van liefde en verdraagsaamheid te soek.
Sulke weë sluit natuurlik nie uit dat ons sal opstaan vir wat reg en goed is nie. Die Bybel stel tog nie verniet geregtigheid as ‘n voorwaarde vir vrede nie.
Maar ook hierdie weg moet met liefde, waardigheid en dissipline bewandel word.
Want per slot van sake het ons nie net met bose of slegte sisteme te make nie, maar ook met mense – mense wat, hoewel soms ongelooflik onbuigsaam en wreed, terselfdertyd ook die slagoffers van hulle eie verderf en boosheid is. Dit is mense wat die bevrydende krag van die liefde dikwels méér as ander nodig het.
Dít mag ons nooit in ons soeke na reg en geregtigheid uit die oog verloor nie.
Here, help tog dat ons in ons soeke na geregtigheid, die plig van die liefde en van waardige optrede nooit sal versaak nie. Amen
Carel Anthonissen