Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel (Matteus 5:44).
My broer het my lank gelede daaraan herinner hoe ongelukkig, ja, selfs gevaarlik dit kan wees as ‘n mens ‘n bepaalde argument of saak wen, maar in die proses jou eie waardigheid, asook die respek van ander mense, verloor.
In ons land waar die emosies oor talle sake op die oomblik hoog loop – van studentegelde tot korrupsie en staatskaping, bly dit ‘n groot gevaar. Dit is dat mense blindelings en dikwels sonder respek vir ander of hulle eie omgewing die strydbyl vir ‘n bepaalde saak opneem.
Net om in die proses self aan respek, liefde en geloofwaardigheid in te boet.
Nie dat ‘n mens ‘n goeie saak van huis uit wil boikot of teëstaan nie. Maar die manier waarop so ‘n saak gesoek, gedryf en gedien word, bly altyd van kardinale belang.
Die Afrikaner-teoloog en aktivis, Beyers Naude, het indertyd reeds gewaarsku dat protes sonder dissipline of liefde, geen reg op ‘n toekoms het nie. Daarnáás herinner die evangelie ons daaraan dat elke saak, hoe dringend en kritiek ook al, uiteindelik om deernis en respek vir mense, ja, alle mense, selfs ook jou vyande, gaan.
Jesus het lank gelede vir ons almal, maak nie saak waarvóór of waartéén ons stry of protesteer nie, iets hieroor geleer.
Here, help ons om, ook wanneer ons gefrustreerd is of protesteer, dit in die gees van respek en liefde vir alle mense te doen, net soos U gedoen het. Amen
Carel Anthonissen