Wanneer dit alles gebeur het, sal Ek my Gees laat kom op al die mense, julle seuns en julle dogters sal as profete optree, julle oumense sal drome droom, julle jong mans sal visioene sien (Joël 2:28-29).
Die groot belofte van Joël 2:28-29 is die belofte van God se Gees wat op alle mense – oud en jonk, vernames en minder aansienlikes – sal kom.
Nie langer nie, so hoor ons, sal net die leiers of die profete, wat meermale soos eensame bome bokant hulle volksgenote uitgetroon het, die wind van die Gees voel nie. Nee, álmal – so verkondig Joël – sal nou in hierdie gawe kan deel.
In die Joël se mond kroon hierdie belofte sy profesie, word dit as t’ ware die kersie op die koek. Wat dit inderdaad ook is. Kom ek vra jou: “Is daar iets groters wat ‘n mens kan gebeur as dat die Gees van God in jou lewe begin beweeg en werk? En dat jy dit bemerk en wéét?”
Want sien, waar die Gees werk, gaan oë oop en begin harte vinniger klop. Vars drome en ander vergesigte, ja, nuwe entoesiasme en polsende geesdrif begin posvat. Die horison word skielik vol lig, soos wanneer die son opkom en alles tot nuwe lewe en gewaarwording wek. Skielik wéét jy dat selfs in die ondraaglikste omstandighede, God steeds aan die werk is.
En waar God deur sy Gees werk, kan dinge ten goede verander en sal die hoop nooit vergaan of beskaam word nie.
Die vraag is natuurlik of jy al bewus is van hierdie Pinksterwonder wat ook in jóú lewe werksaam is?
Kom Gees van God, maak my oë vandag weer oop om die wonders van God se genade, ook in my donkerste oomblikke, te herken. Amen
Carel Anthonissen