Boodskap vir Vandag

Search

Watter gees dryf jou?

Julle word egter nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees, want die Gees van God woon in julle (Romeine 8:9).

Die wonderlike belofte van Joël oor die gawe van die Gees aan alle mense, het my laat wonder: Watter gees beheers en dryf vandag jou lewe?

Is dit jou eie gees van selfsug en gierigheid, van eiegeregtigheid en rassisme, van weerwraak en geweld, plesier en posisie? Of is dit werklik die Gees van God – die Gees van ware lewe wat ons altyd verby ons eie selfsugtige drome en ambisies neem en gedurig aan God se drome en ideale knoop?

Hierdie Gees is inderdaad nie ‘n gees van goedkoop kompromieë of gerieflike keuses, van massahisterie of leë slagspreuke nie. Nee, dit is ‘n Gees van waarheid en geregtigheid, van liefde en vrede wat ons gedurig moet help – elkeen op sy eie manier – om fyn te luister, goed te onderskei en dan dapper op te staan vir dit wat goed en reg is.

Selfs al beteken dit dat ons, soos Jesus, soms teen die populêre opinie moet ingaan.

Uiteindelik – so verkondig die Bybel – is die Gees wat ons lewe beheers die Gees van God, van Christus. En sý Gees, dit moet ons weet, sal ons altyd weer oor nuwe grense neem, sonder om ons ooit te verlaat of te beskaam.

Gees van God, Gees van Christus – dankie dat U in ons woon. Help ons vandag weer om fyn te luister, goed te onderskei en met vrymoedigheid op te staan vir u saak. Amen

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.