Ek dank my God elke keer as ek aan julle dink (Filippense 1:3).
Die bindstof van alle goeie verhoudinge of vriendskappe bly daardie kosbare, eenmalige en dikwels onverwagse, ja, selfs onbeplande oomblikke van intieme ontmoeting, aanraking en nabyheid.
Wie van ons ken dit nie?
Daardie gesprek waarin twee innerlike landskappe skielik oormekaar skuif en jy wegstap met die gevoel jou siel het vir ‘n kort oomblik aan dié van die ander geraak.
Of daardie afskeidsoomblik wanneer ‘n geliefde vertrek en jy nog koester aan die laaste gedempte woorde of omhelsing.
Of tydens oomblikke van siekte en dood, wanneer ‘n enkele woord of net ‘n stilswyende aanraking of druk, ‘n band stig wat onvergeetlik, onherroeplik en onmeetbaar is.
Hierdie bindstof-oomblikke is dikwels só sterk dat die teoloog, Frederick Beuchner, op ‘n stadium die ewige lewe in dié terme beskryf het. Vir hom breek iets van hierdie lewe deur in daardie oomblikke wanneer jy so teenwoordig is by iemand dat die bewussyn van tyd jou ontglip en jy iets van Christus in die ander persoon herken.
Dit word dan ‘n ewige, onvergeetlike oomblik.
Here, dankie dat U ons u vriende noem. Help my vandag om nader aan U te leef en so ons vriendskap te verdiep. Amen
Carel Anthonissen