Ek het droogte laat kom oor die land en oor die berge, oor die koring, die wyn en die olie en oor die opbrengs van die land, oor mens en dier en oor alles waarmee die mens hom besig hou… (Haggai 1:11). Maar nou Serubbabel, skep moed, sê die Here… (Haggai 2:4).
Baie wonder of Afrika hom ooit uit sy geskiedenis van koloniale uitbuiting, falende ekonomieë, korrupte leierskap en geweld teenoor mense sal kan loswikkel.
Hieroor het iemand onlangs opgemerk dat in ons nadenke oor Afrika, ons nie die fundamentele fout moet maak om allereers uit ʼn tipies Westerse perspektief of kennis na Afrika se geskiedenis of toekoms te kyk nie.
As gelowiges moet ons ook, presies soos die profete van ouds, rekening hou met God se teenwoordigheid en werk op die kontinent – al moet ons aanvaar dat dit dikwels deur chaos en onreg heen geskied.
In sy woorde: “It is true – to think of Africa, hurts, bewilders, confuses and creates perplexity. But we should also remember: to be in Africa does not only involves pain and suffering. It is also to realise that God had already passed and is still passing through Africa.”
Om dít te weet en te onthou kan ons help om meer hoopvol na ons kontinent te kyk.
Ook met meer liefde, deernis en dankbaarheid deel daarvan te wees.
Here, dankie dat U in die geskiedenis werk en dat ons ook mag glo: God seën Afrika! Amen
Carel Anthonissen