Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” (Lukas 19:5).
Meeste van ons het die figuur van Jesus al so huislik en beskaafd gemaak, so ingepas in ons kleinburgerlike en ordentlike wêreld, dat dit nie aldag tot ons deurdring wie Hy wérklik was nie.
Luister net weer: Jesus was in sy tyd iemand wat régtig tollenaars en sondaars, ontugtige vroue en bedrieërs opgesoek en na Hom aangetrek het.
Hy was ‘n mens wat regtig lief was daarvoor om met diesulkes te meng, saam met hulle te eet, hulle selfs sy vriende te noem. Sodat dit ‘n gewoonte by almal van hulle geword het om na Hom te kom luister (Lukas 15:1).
Tog merkwaardig! Want dit beteken: Soos hulle, hoef ek nie langer uitgesluit of verwerp te voel nie. Hoe sleg ek ook al vandag oor my lewe voel, hoeveel keer ek ook al gefaal en misluk het, hoe sleg my naam of reputasie ook al in die oë van ander is, by God maak dit nie langer saak nie.
Of nee, dit maak tóg saak. Want presies wanneer ek só voel, presies wanneer ek so laag gedaal het dat ek myself en ander nie meer in die oë kan kyk nie, wil die God van Jesus, net soos destyds, mý ook opsoek, mý op my naam noem en by mý vertoef. Ja, hierdie God verlang vandag, meer as enigiets anders, om my vriend wees.
As ek dít kan glo, kan ek maar opstaan en weer begin lewe.
Régtig!
Here, wat ‘n troos om te weet dat U na ons uitreik terwyl ons nog sondaars is. Laat dié wete vandag weer my gevoel oor myself en oor ander bepaal. Amen
Carel Anthonissen