Wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor …? (Matteus 16:26).
Onlangs kom ek op hierdie aanhaling van ‘n bekende, ouer Amerikaanse dokter af, iemand wat doelbewus haar geloof met haar werk integreer.
Sy skryf: “As mense net sover kan kom om stil te staan by en na te dink oor hulle innerlike lewe – dit is die wêreld van hulle dieper gevoelens, gewaarwordinge en verlangens – sal hulle beslis met meer hoop begin lewe. Ook bronne ontwikkel wat hulle kan help om beter en sinvoller met lyding om te gaan.”
In die wêreld waarin ons leef, is dié soort raad natuurlik nie so maklik om na te volg nie.
Oorlaai deur ‘n magdom prikkels, aansprake en verpligtings – méér as wat ons kan behartig – is die meeste mense se lewe vandag vasgevang in ‘n intense, uiterlike gejaag en gewroeg. Só raak hulle vervreem van hulleself en afgestomp teenoor ander.
Verbaas dit ons dan dat 400 dokters in Amerika jaarliks selfmoord pleeg, en dat 12 persent van alle manlike en 18 persent van alle vroulike dokters dáár aan depressie lei?
Teen dié agtergrond gesien, is hierdie ouer kollega se opmerking ‘n belangrike wekroep, ook aan ons. Een wat ons onder andere uitdaag om die waarde van stilte en rus, en méér nog, van ‘n egte, geestelike lewe, nuut te oorweeg.
O, Here, help ons vandag om weer die waarde van stilte en rus te ontdek. Ja, om die aanraking van u liefde daarin te ervaar. Amen
Carel Anthonissen