Hy het sy arms om die kindertjies gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën (Markus 10:10).
Lynn Pederson is ʼn Anglikaanse pastor wat etlike jare reeds by die Rooikruis Hospitaal in Kaapstad werk.
Onlangs het ek die voorreg gehad om ʼn geleentheid by te woon waar sy oor haar werk gesels het.
Haar werk is moeilik, veral wanneer sy ouers moet bystaan wat sien hoe hulle kinders, sommige maar net vier jaar oud, wegkwyn onder die skrikwekkende en aftakelende uitwerking van ʼn siekte soos kanker.
In sulke omstandighede, vertel Lynn, is die behoefte sterk om die situasie vir kind en ouers tot elke prys beter te maak. Maar dan, sê sy, moet jy juis leer om jou grense en magteloosheid te aanvaar. Ook dat jou blote daarwees en veral jou vrymoedigheid om mense, ouers en kinders, in hulle smart gewoon aan te raak of vas te hou, meestal genoeg is.
Soos een ouerpaar dit teenoor haar verwoord het: “Bloot die feit dat jy hier is en jou aanraking sal ons nooit vergeet nie. Dit was vir ons soos medisyne. Miskien die beste wat daar is.”
En indien jy dit vergeet het: Jesus het ons lankal hierin voorgegaan (Mark 10:16).
Here, dankie dat U tot vandag toe nie skroom om by ons te wees en, net soos destyds, u arms om ons te sit en ons te seën nie. Laat ons u seënryke aanraking vandag opnuut ervaar en ook aan ander gun. Amen.
Carel Anthonissen