“En onthou: Ek is by julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matteus 28:20)
ʼn Ander groot waarheid wat Lynn Pederson, die pastorale werker by Rooikruis Hospitaal, oor die jare heen moes leer, is die waarde van eerlikheid.
Om, soos sy dit stel, in die aangesig van ernstige siekte en dood nie te huiwer om met die nodige begrip en onderskeidingsvermoë die waarheid aan pasiënte en naasbestaandes oor te dra nie. Om dit trouens só te doen dat daar uiteindelik ʼn oomblik van aanvaarding en vrede sal kom.
As illustrasie hiervan herroep sy dan ʼn aangrypende gesprek wat sy eenmaal met ʼn sterwende seuntjie gehad het. Die gesprek het min of meer só verloop:
Seuntjie: “It’s terrible, I am going to die.”
Lynn: “Yes, nobody wants to die.”
Seuntjie: “But I am far too young to die.”
Lynn: “Yes, you are far too young.”
Seuntjie: “But I am afraid of pain.”
Lynn: “We won’t let you suffer pain.”
Later, vertel Lynn, het die seuntjie haar hand geneem en gesê: “Baie dankie dat jy so eerlik met my was.” Hierna het hy selfs voorstelle oor sy begrafnis gemaak. Sy laaste woorde aan sy ouers was: “Don’t cry forever, and I don’t want to be forgotten.”
Nie een van ons sal eendag iets hiervan kan vermy nie. Hoe goed om dan te weet dat daar eerlike en meelewende mense soos Lynn Pederson rondom ons is.
Ook die Heer wat die dood oorwin en belowe het dat Hy áltyd, selfs tot in die laaste skrik, by ons sal wees.
Here, dat ons aan U behoort en dat U altyd by ons is, is vandag weer ons groot troos in lewe en in sterwe. Amen.
Carel Anthonissen