Toe Hy uit die skuit klim, het Hy die groot menigte mense daar gesien. Hy het hulle innig jammer gekry en die siekes onder hulle gesond gemaak (Matteus 14:14).
Die meeste van ons blom en floreer onder die aandag, belangstelling en bewondering van ander mense.
Vir sommige is hierdie applous amper soos ʼn verslawing. Hulle kan nie daarsonder nie. Hulle hele lewe, ja, alles wat hulle doen, is daarop gemik om hierdie waardering of bewondering uit te lok. Om gedurig te hoor hoe oulik, mooi of wonderlik hulle is.
Ek het ʼn vriend wat presies die teenoorgestelde is. Nie dat hy nie ook deur ander bewonder word en dit geniet nie. Maar sy grootste behae is om ánder te sien blom, om ánder te bemagtig en om ánder goed oor hulleself te laat voel.
Hy doen dit nie om daardeur iets vir homself te wen of te verwerf nie. Inteendeel, hy bemagtig ander omdat hy opreg in hulle belangstel, selfs nuuskierig is oor hulle doen en late. By hom het dit oor jare heen tot ʼn natuurlike instelling gegroei. Dit is gewoon hoe hy is – vry, onbedreig, nuuskierig en altyd gereed om uit te vra en met opregte belangstelling te luister.
Om in sy geselskap te wees is altyd lekker, want hy laat jou altyd spesiaal en beter oor jouself voel, asof daar niemand soos jy in die vertrek is nie.
Ek het ʼn idee dit is wat mense ook van Jesus se beleef het. En wat Hy van ons as sy dissipels verwag.
Vandag nog.
O Here, Gees van God, maak ons vandag soos Jesus, iemand wat altyd daarop ingestel is om ander te bemagtig en te genees. Amen.
Carel Anthonissen