Daar was ook ʼn stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My” (Markus 1:11).
My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was … (Filippense 2:12).
Nog ʼn belangrike waarheid waarvan Henri Nouwen, die Katolieke geestelike, ons bewus gemaak het, is die gevaar van selfverwerping.
In een van sy talle boeke spel hy dit uit.
Die groot gevare van ons lewe is nie noodwendig opgesluit in die dikwels ongesonde sug na sukses, gewildheid en mag nie. Dit lê veel eerder in die konstante versoeking om te min van onsself te dink. Om ons eiewaarde te onderskat. Om onsself soms selfs te verag en te verwerp.
Hierdie gevoel van selfverwerping, só voer Nouwen aan, kom meestal na vore wanneer mense ons onnodig kritiseer, minag of blatant ignoreer. Dan tree die gevoel in dat ons min werd is. En ons begin aan onsself twyfel. Ons begin onsself as minderwaardig beskou en onsself selfs verwerp.
Só ʼn lewensgevoel, herinner Nouwen ons, staan lynreg teenoor die stem van God wat vandag weer deur Christus na ons toe kom. Wat mense ook al van ons dink of sê, hoe ons ook al oor onsself voel, God se stem verklaar onomwonde: Ons, soos God se geliefde Seun, bly God se geliefde kinders.
Uit hiérdie versekering mag en moet ons elke dag leef. Dit bly die vaste fondament van ons lewe.
Here, vergewe my dat ek vandag weer so min van myself dink. En dit terwyl U in Christus en deur Paulus se woorde my steeds as u geliefde aanspreek. Help my om vandag vanuit dié versekering te leef. Amen.
Carel Anthonissen