Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van ʼn slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word (Filippense 2:5-7).
Waarskynlik is die belangrikste waarheid waaraan Henri Nouwen, die Katolieke geestelike, ons deur sy talle werke herinner die unieke krag en waarde van weerloosheid.
Vir Nouwen was weerloosheid die keerkant, indien nie die hart nie, van daardie onbevooroordeelde en sorgende liefde waartoe Jesus ons as sy volgelinge oproep.
In sy lewe het Nouwen die helende krag van weerlose liefde op ʼn dramatiese manier ontdek. Dit was toe hy besluit om die gerief en sekerheid van die akademiese wêreld prys te gee ten einde gestremde mense te gaan versorg.
Oor dié tydperk van sy lewe skryf hy: ”Dit is alleen hulle wat nie weet wat om te sê nie en tog bereid is om in stilte by ʼn medemens te gaan sit, wat nuwe lewe vir ʼn sterwende hart kan bring. Dit is alleen hulle wat nie bang is om die ander se hand vas te hou, trane van meelewing te stort en selfs ʼn kreet van angs te uiter nie, wat deur allerlei verlammende grense kan breek en die geboorte van ʼn nuwe gemeenskap kan beleef – die gemeenskap van gebrokenes en weerloses.”
Vir baie wie se lewe steeds om hulleself en hulle ambisies draai, sal so ʼn benadering tot die lewe vreemd voel. Maar Nouwen was oortuig die hart van die evangelie klop hierin, en dat dít – hierdie moed tot weerlose liefde – die sleutel tot die heling van ʼn hele samelewing inhou.
Boonop is dit die soort leiers wat ons vandag soek. In sy woorde: ”I am deeply convinced that the Christian leader of the future is called to be completely irrelevant and to stand in this world with nothing to offer but his or her own vulnerable self.”
O Here, help ons vandag om soos ons slawekoning, Jesus Christus, te leef. Amen.
Carel Anthonissen