Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die heel eerste vraag

“Hy is nie ʼn God van dooies nie maar van lewendes” (Lukas 20:38).

In Lukas 20:27-38 hoor ons ʼn gesprek vol talle moderne klanke.

Dit vind plaas tussen Jesus en die Sadduseërs – ʼn Joodse splintergroep wat uitgesproke was daaroor dat hulle nié aan ʼn opstanding of ʼn lewe ná die dood glo nie.

Nie dat hulle onnodig dwars wou wees nie. As Jode het hulle die opvallende swye van ʼn groot deel van die Ou Testament oor ʼn ewige lewe ernstig opgeneem. Hulle vraag aan Jesus oor die stand van die huwelik ná die dood wou verder die Fariseërs se opstandingsgeloof, wat op ʼn jonger tradisie van die Ou Testament berus het, belaglik maak.

Jesus laat Hom egter nie intrek in hierdie ou twis tussen twee strydende faksies nie. In sy antwoord maak Jesus wel uitsprake oor ʼn lewe ná die dood wat vir ons, as ons goed luister, steeds van groot belang kan wees.

Die eerste perspektief wat Jesus bied – en dit word in vers 37-38 gesuggereer – is dat wie die opstanding van die dooies ontken, ook die bestaan van die lewende God ontken. Anders gestel: Wie glo dat God bestaan en dat God Homself, soos Jesus hier sê, in die geskiedenis as die lewende God aan Moses en ander geopenbaar het, aanvaar terselfdertyd dat alles moontlik is. Selfs dat nuwe lewe onder God se hand uit die dood kan verrys.

In ons nadenke oor die moontlikheid van ʼn ewige lewe is dít, aldus Jesus se getuienis, die heel eerste vraag wat ons moet vra: “Glo ek wel in God? Glo ek dat God bestaan? Glo ek dat God by uitstek die God van lewendes is?”

Indien wel, word alles moontlik, selfs ʼn lewe ná die dood.

Here, ons glo dat U leef en dat U lewe ná die dood kan skep. Maar, Here, kom ons knaende ongeloof en twyfel vandag weer tot hulp. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.