“Hulle kan ook nie meer sterwe nie; hulle is soos die engele. Hulle is kinders van God, omdat hulle uit die dood opgestaan het” (Lukas 20:36).
In Lukas 20:37-38 bely Jesus in ʼn gesprek met die Sadduseërs – ʼn Joodse groep wat nie in ʼn opstanding ná die dood geglo het nie – sy geloof in die God van die lewendes (20:36-38).
Wie dit waag om in hierdie God te glo, so hoor ons uit Jesus se mond, mag met goeie reg hoop dat die dooies eendag – net soos Hy self later – uit die dood opgewek sal word (20:37). Ja, dat daar sprake van ʼn lewe ná die dood is.
In dié gedeelte gaan Jesus selfs nog ʼn stap verder. Hy gee vir ons ʼn kort maar skerp blik op die aard van hierdie lewe of, soos Hy dit in dié gedeelte noem, die toekomstige wêreld (20:35).
Dit is ʼn lewe, oftewel ʼn wêreld, wat, so hoor ons Hom praat, ʼn totaal ander dimensie van bestaan of lewe verteenwoordig. Een wat omhul is met geheimenisse wat ons beperkte verstand of rede te bowe gaan.
Dáár, so vertel Jesus, trou mense nie meer nie en die noodsaak van voortplanting verval. Soos engele leef mense vir ewig as waardige kinders van God, saamgetrek in ʼn gemeenskap van lofbetuigende aanbidding, dank en diens aan God (20:34-36; Op 22:3-5).
In die teoloog Hemuth Gollwitzer se woorde: “Die klein bietjie tyd wat myne is voordat die dood kom en waarin die begrensdheid oorheersend is, word vervang deur die onbegrensde tyd van die lewe voor God.”
Want almal – dit is ons blye vooruitsig as gelowiges – leef nou bý en vír God (20:38).
Here, ons aanbid U vandag as die God van lewendes – die God van Jesus wat die dood oorwin het en ons tot anderkant die graf sal dra. Amen.
Carel Anthonissen