Jesus het sy dissipels aangekyk en gesê: “Geseënd is julle wat arm is, want aan julle behoort die koninkryk van God” (Lukas 6:20).
Vanoggend op pad iewers heen, vang ek die laaste gedeelte van ʼn radiogesprek met die kunstenaar Conrad Theys.
Theys is gebore in Montagu, maar het in die Loeriesfontein-distrik grootgeword. Oor die jare heen het hy hom onderskei as ʼn skilder wat, onder meer, die eenvoud en bekoring van dié Karoolandskap en sy mense met groot vernuf en aanvoeling kan uitbeeld.
Bekend is sy skilderye van eenvoudige plaaswerkers se huise. Byna filosofies verduidelik hy, aan buitestanders wat die huisies as vervalle en armsalige gehuggies afmaak, hoe sy skilderye juis die eie skoonheid en kleur van dié skamele huisies probeer vasvang.
Want vir die inwoners, ongeag hulle status of stand, is dit ʼn ware tuiste, ingerig en getooi met al die omgee en liefde wat ʼn hegte familielewe kenmerk. Dít voel ʼn mens sommer aan as jy na Conrad Theys se skilderye kyk.
En, sluit hy af, in dié huisies is daar meestal meer menslikheid en warmte te vind as in baie van die groot paleise waar die rykes en die bevoorregtes woon.
Ons kan inderdaad veel leer by hierdie kunstenaar wat dieper kyk – ook by die armes wat eenvoudiger, maar dikwels mensliker, leef. En so ʼn eie skoonheid vertoon. Een wat deur Theys op ʼn aangrypende manier uitgebeeld word.
Geen wonder Jesus het die armes spesiaal liefgehad en geseën nie.
Here, leer ons vandag daardie eenvoud en armoede wat deur U geseën word. Amen.
Carel Anthonissen