Wie in die duisternis lewe, weet nie waar hy gaan uitkom nie (Johannes 12:35).
In sy bekende belydenisse is daar ʼn aangrypende gebed van die ou kerkvader Augustinus.
Dit lui só: “Jesus Christ, light of my heart, do not let the darkness speak to me.” Oftewel in Afrikaans vertaal: “Jesus Christus, lig van my lewe, verhoed dat my donkerte gedurig met my praat.”
Met dié woorde, so skryf Broer Roger van die Taizé-gemeenskap, het Augustinus ʼn belangrike aanvoeling of intuïsie laat blyk. Dit is dat wie toelaat dat hulle innerlike donkerte – alles wat ons moedeloos en negatief kan stem – hulle oorweldig en hulle volle aandag in beslag neem, ʼn ongesonde en gevaarlike pad betree.
Hulle begin dan onophoudelik praat, nie meer met die opgestane Christus nie, maar oor dit wat aan die wortel van al hulle somberheid lê: hulle onverwerkte seer en teleurstellings. Asof dit die totale waarheid van hulle lewe is.
Om dié weg te betree, so sluit Broer Roger van Taizé sy meditasie oor Augustinus se gebed af, is meestal ʼn onvrugbare oefening. Dit lei na nêrens.
Tensy ons dit gedurig in gebed voor Christus bring.
Jesus, lig van my lewe, verhoed vandag dat my donkerte gedurig met my praat. Amen.
Carel Anthonissen