Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig (Efesiërs 5:8).
Aanvullend by Augustinus se gebed dat God ons daarvan sal bewaar dat ons donker stemme ons sal aandag in beslag sal neem en ons sal oorweldig, is daar Jesus se positiewe vermaning in Johannes 12:35.
Daar lees ons: “Lewe in die lig terwyl julle dit het sodat die duisternis julle nie oorval nie.”
Vir eers beteken dit dat ons vandag opnuut ons aandag en ons gedagtes sal draai na Hom oor wie die Bybel vertel dat Hy die lig en die hoop van die wêreld is – die Een wat die kwaad oorwin en die donkerte verdryf het.
Hóm wat deur sy Gees in ons leef, moet ons toelaat om ons aandag te boei, ons gedagtes en denke in beslag te neem. Ja, in sý lig – dit is die boodskap van sy daaglikse vergifnis en onophoudelike liefde – moet ons elke oomblik gaan wandel.
Wie dít waag, begin algaande weet waartoe hulle in dié lewe geroep en bestem is. Boonop kom daar ʼn ligtheid en ʼn gelatenheid, selfs ʼn diep vreugde en ontspanne gevoel in hulle lewe. Hulle kommer vervaag. Hulle depressie begin wyk. Hulle maak hulle nie meer moeg met die donker en neerdrukkende dinge van die lewe nie.
Want hulle groot soeke en belangstelling is nou hoe om egte mense van die lig te wees. Ja, draers van lig in ʼn donker en siellose wêreld.
Here, lig van ons lewe, na U draai ons vandag opnuut. Ons bid: Vul ons met die lig van u liefde en u vergifnis. Leer ons wat dit beteken om draers van dié lig te wees. Amen.
Carel Anthonissen