Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Ons mag maar meer verwag

Kom, volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van die Here kom (Jesaja 2:5).

Die oproep om as kinders van God die donkerte af te sweer en in die lig van God se teenwoordigheid en liefde te gaan leef, is so oud soos die berge.

Reeds in die agste eeu voor Christus kom die oproep uit die mond van die profeet Jesaja: “Kom, volk van Jakob, laat ons lewe in die lig wat van die Here kom.”

Met dié woorde wou Jesaja allereers die volk herinner aan en terugbring na hulle ware roeping: om ʼn lig vir die hele wêreld te wees, ʼn gemeenskap waarin God se wil vir almal sigbaar en tasbaar sou wees. Ja, ʼn plek waar alle mense uit alle volke iets van God se vrede kon beproef.

Sodat hulle spontaan hulle wapens tot nuttige landbou-implemente sou smee. En oorlog ʼn vergete woord sou word.

Die wonderlike van die visioen agter Jesaja se opdrag is dat dit geen leë wensdroom was nie. Dit was gegrond op God se betroubare belofte van herstel en vernuwing (Jes 2:2-4). ʼn Belofte wat aangekondig is terwyl die volk se lewe besig was om uit te rafel en hulle God se oordeel verdien het (Jes 3).

Maar dít is waaroor Advent gaan: dat God sy lig vandag nog in ons donkerte laat deurbreek sodat ons uiteindelik in meer mag glo, ja, selfs meer mag verwag as wat ons elke dag in en om ons sien gebeur.

Kan jy dít glo?

O Here, dat U U met ons bemoei, terwyl ons so onverskillig leef, is iets wat ons nie kan begryp nie. Help ons om vandag weer vanuit u beloftes te leef sodat ons oë oop sal wees vir dit wat U in ons chaotiese wêreld aan die doen is. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.