Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die opwindendste nuus denkbaar

Uit genade is julle gered (Efesiërs 2:5).

Hoewel oorbekend, is Paulus se woorde in Efesiërs 2:5 seker die belangrikste boodskap wat elke Christengelowige kan hoor.

Dié boodskap lui: “Uit genade is julle gered.”

Oor dié teks het min teoloë so aangrypend gepreek soos die groot Karl Barth. Die gevangenes wat destyds na hom geluister het, se ore moes omtrent by tye van verbasing en opwinding getuit het.

Hoor net hoe begin Barth sy preek! Hy verwys na ʼn siening wat vandag nog sterk in omloop is: dat kerk toe gaan en Bybellees eintlik oorbodig is. Want wat daar geleer word, is oorbekend: “Jy moet net doen wat reg is, dan is daar niks te vrees nie.”

Hierop was Barth se kommentaar aan sy gehoor destyds: “As dít die Bybel se boodskap moet wees, sou ek nooit hierheen gekom het nie. Sou ek nooit my tyd of julle tyd kom mors het nie. Want só ʼn boodskap is sonder betekenis; dit help niemand nie. Trouens, die meeste mense wat só praat, doen dit sonder enige blyk van troos of vreugde. ʼn Mens sien dit sommer op hulle gesigte.”

“Nee,” het Barth destyds vervolg, “die Bybelse boodskap is waarlik nuus, spesiale nuus, die opwindendste nuus denkbaar. Ook die enigste nuus wat werklik saak maak, wat mense regtig kan help.”

Oor hoekom dít waar is, sal ons in die volgende dae saam met Barth nadink.

O Here, help ons vandag om mooi te luister wanneer U na ons kom met die versekering dat ons uit genade gered is. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.

Daaglikse Inspirasie

Die Boodskap vir Vandag-app is nou beskikbaar vir jou selfoon.
Installeer dit vandag nog.