NEEM KENNIS:
Jy ontvang jou dagstukkie net tot 15 Desember 2016 en weer vanaf 9 Januarie 2017. Aan ons vriendekring van meer as 9 000 intekenaars, wens ons ’n vreugdevolle en sinvolle Kerstyd vol liefde toe.
Die nag is verby; dit is amper dag (Romeine 13:12).
Verlede week is ek by die bekendstelling van Jaap Durand, bekende en prominente teoloog, se nuutste boek Dit is amper dag – nagedink oor geloof, dood en ewige lewe.
Dié boek is ʼn neerslag van oom Jaap, soos sy studente hom genoem het, se persoonlike worsteling met vrae oor dood en ewige lewe. Dié vrae het ná sy eerste vrou, Randu, se ontydige dood akuut geword.
Anders as vele ander wat skepties oor hierdie vrae is, onder meer omdat daar geen empiriese bewyse vir ʼn lewe ná die dood bestaan nie – niemand het immers al uit die graf teruggekeer om ons iets daarvan te vertel nie – kies Durand ʼn ander weg. Vir hom is die Bybel en veral Paulus se getuienis hieroor die belangrikste kenbron.
Ná ‘n deeglike ontleding van al Paulus se verwysings en argumente in dié verband kom Durand tot ʼn troosvolle gevolgtrekking. Dit is dat die gedagte van ʼn lewe ná die dood – noem dit ook die ewige lewe – inderdaad met misterie omgewe is. Waarop ons wél kan hoop en waarin ons wél mag rus, is die blye versekering dat God aan die einde van ons lewe dáár sal wees.
In Durand se woorde: “Die hemel is om saam met Christus, om saam met God te wees. Dit is al wat ons moet weet. Aan die einde van my lewe is God daar. Sy groot toekoms, die koms van sy koninkryk, die vervulling van al sy beloftes wag op my wanneer ek my oë finaal sluit. Dit is amper dag.”
Veelseggend dra Durand die boek dan ook op ter herinnering aan haar, sy eerste vrou, vir wie die dag reeds gebreek het.
Here, ons vrees baie dae die dood. Dankie vir die blye versekering dat U leef en dat ons lewe in U nou en tot in ewigheid geborge is. Amen.
Carel Anthonissen