Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Dit begin in ons binneste

NEEM KENNIS:
Jy ontvang jou dagstukkie net tot 15 Desember 2016 en weer vanaf 9 Januarie 2017. Aan ons vriendekring van meer as 9 000 intekenaars, wens ons ’n vreugdevolle en sinvolle Kerstyd vol liefde toe.


Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:6-7).

Iemand het eenkeer tereg opgemerk dat vrede in hierdie wêreld ʼn onhaalbare ideaal sal bly, tensy ons moeite doen om met onsself in vrede te leef.

Anders gestel, die geheim van egte vrede begin in die hart, in die binneste van elke mens. Wat beteken dit is eers wanneer God se genade en vrede my dáár aanraak en tot rus en bedaring bring dat God se vrede ook deur my na die wêreld kan oorspoel.

In Filippense 4:4-9 gee Paulus praktiese raad oor hóé dit kan gebeur.

Heel eerste, so nooi Paulus ons, moet ons dit waag om alles wat ons bekommer en wat ons van ons vrede en blydskap kan beroof in gebed voor God uit te stort. Dit moet ons doen met die vertroue dat God ons sal hoor en aan ons vrede sal skenk.

Maar dan, as deel van óns verantwoordelikheid om vrede in ons binneste te help skep, moet ons ons gedagtes doelbewus met positiewe inhoud vul. Ja, alles wat edel, reg, rein, mooi en prysenswaardig is – dáárop, sê Paulus vir ons, moet ons ons gedagtes gedurig rig (Fil 4:8).

Dan, so lui die belofte, sal God vir ons vrede gee wat alle begrip oortref en wat ons dwalende en negatiewe gedagtes sal bedwing en daaroor sal waak (Fil 4:7, 9).

Here, ek bring vanoggend my vrese en my bekommernisse, my dwalende en my angstige gedagtes na U toe. Hoor my wanneer ek bid, bedwing my gedagtes en gee vir my u vrede. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.