Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Groter as die lewe

NEEM KENNIS:
Jy ontvang jou dagstukkie net tot 15 Desember 2016 en weer vanaf 9 Januarie 2017. Aan ons vriendekring van meer as 9 000 intekenaars, wens ons ’n vreugdevolle en sinvolle Kerstyd vol liefde toe.


Die lewe van die regverdiges is vol vreugde (Spreuke 13:9).

Jy kry mense wat amper groter as die lewe is.

My vriend Raoul, met sy stralende lag, sy klinkende stem, sy groot liefde vir musiek, perde, reptiele en sy pragtige, hartlike vrou, was so ʼn mens.

Raoul is onlangs onverwags, in die fleur van sy lewe, oorlede. Miskien ʼn soort genade, want Raoul sou die remminge van die ouderdom moeilik verdra het. Daarvoor was die jeug soos ʼn ewigheid te diep in hom geplant, te deel van sy weefsel.

Sy energie en entoesiasme vir die lewe en mense was onuitputlik. Hy was gedurig aan die beweeg, het projekte aanpak, mense gehelp, die nuutste beproef, aandag daarvoor gevra.

Oor Raoul sou ʼn mens kon sê: Hy het ʼn onvergeetlike en positiewe afdruk op sy omgewing, familie en mense gelaat. Hy was geen tradisionele gelowige of kerkmens nie. Maar soos baie van sy soort het hy geensins onverskillig voor sy Maker geleef nie. Inteendeel, met sy wellewendheid en vrolikheid het hy mense se lewe verryk en die wêreld ʼn interessanter en beter plek gemaak.

Noem dit besonderse of algemene genade, maar genade was daar oorvloedig in sy lewe. Daaroor het hy self dikwels gepraat.

Mense soos Raoul vergestalt iets van die vreugde, dankbaarheid en entoesiasme wat by Kersfees pas.

Here, dankie vir mense wat die vrolikheid van Kersfees spontaan uitleef – hulle wie se lewe ons ook daartoe oproep. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.