Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ʼn stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs” (Jesaja 30:21).
Uit my studentejare onthou ek die Nederlandse prediker Gabe von Duinen se boek De Stem achter U.
Dié boek het destyds ʼn groot indruk op my gemaak.
Dit was veral sy dagstuk oor “God se stem agter ons” wat my aangegryp het. Want, soos die Israeliete destyds, het ek besef dat ons lewe elke dag omring word deur ʼn veelheid van stemme – stemme wat aanspraak maak op ons tyd en ons aandag en ons geleidelik, sonder dat ons dit eens besef, van koers kan dwing.
Dit is dan ook die uitdrukking wat Jesaja gebruik wanneer hy die volk van geweld, bedrog en ontrou aan God beskuldig: “Julle het die regte koers verlaat” (Jes 30:21).
Gelukkig is dit nie al woorde wat Jesaja in hierdie gedeelte deel nie. Trouens, hoor net hoe bemoedig en troos hy die verdwaalde volk, ja, ook vir ons vandag: “As jy na die Here roep om hulp sal die Here jou genadig wees” (Jes 30:19).
Meer nog: “Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ʼn stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs’” (Jes 30:21).
Inderdaad woorde waarmee ons die nuwe jaar kan binnestap.
O Here, wat ʼn troos dat U met ons bly praat wanneer ons koers verloor. Gee ons vandag die ore om u genadevolle stem te hoor. Amen.
Carel Anthonissen