Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed (Genesis 1:31).
In een van sy vele meditasies herinner Richard Rohr, die Franciskaanse geestelike, ons – hier aan die begin van die jaar – aan ʼn baie belangrike waarheid.
Dié waarheid is: Wie die Bybel ernstig neem, kán en móét ook die lewe altyd op ʼn positiewe noot aanpak.
Om sy uitspraak te motiveer, verwys Rohr na Genesis 1. Hier word vertel hóé God alles begin het. Hoe God, terwyl God besig was om te skep, meermale na die werk van sy hande gekyk en dan uitgeroep het: “Dit is goed, ja, báie goed.” Tot vyf maal word hierdie uitspraak, ook bekend as God se oorspronklike seën, in Genesis 1 herhaal.
Hierdie seën beteken: Ons lewe is bestem om goed en mooi te wees. Dít was God se bedoeling van die begin af. Dít is waarom ons hier is; dit is waarheen ons mik; dit is waarvoor ons werk: om aan hierdie oorspronklike seën van God deel te kry. En om dít, hierdie inherente goedheid van God se skepping, deur woord en daad sigbaar te maak.
Ongelukkig, en ook hierop wys Rohr ons, is ons geneig om ons lewe met Genesis 3 te begin, en selfs daarin vas te val. Genesis 3 is die verhaal van die mens se sonde, skuld en verval – ʼn donker verhaal vol probleme, skaamte en wanhoop.
Hoewel baie gelowiges se gemoedstemming en lewenspraatjies deur die somber toon van Genesis 3 bepaal word, word ons tot iets meer, iets beter, opgeroep. Dit is om te glo dat alles goed is, en ook dáárvoor te leef.
Só behoort ons die nuwe jaar binne te gaan – deur positief te gaan leef vanuit God se oorspronklike seën.
Here, U gee ons vanjaar weer die geleentheid om vanuit u goedheid te leef. Help ons om dit aan te gryp. Amen.
Carel Anthonissen