Ons het saam met Christus gesterwe; daarom glo ons dat ons ook saam met Hom sal lewe (Romeine 6:8).
Epifanie, oftewel die herinnering aan God se verskyning in die Persoon van Jesus Christus, bring ons voor allerlei vrae te staan.
Die belangrikste vrae is waarskynlik: “Wie was Jesus werklik? Waarom vertel die Evangelies sy lewensverhaal met soveel opgewondenheid? Wat was die doel van sy lewe?”
Richard Rohr, die Franciskaanse geestelike, gee hierop ʼn interessante antwoord. Eerstens, so voer hy aan, het Jesus gekom om ons siening van God te verander. Om deur sy lewe te wys hoe totaal ongewoon en nederig God is – dat God in sy liefde vir mense nie omgegee het om in die gestalte van ʼn mens onder ons te kom woon nie. Vir God het dié keuse geen verlies aan status of mag beteken nie – veel eerder het dié daad die unieke aard van God se mag bevestig.
Meer nog, Jesus wys vir ons die onvermydelike ritme van die lewe – hoe ons lewe die hele tyd afspeel tussen momente van dood en opstanding, lyding en vernuwing, angs en ekstase. Trouens, in Jesus se lewensgang sien en ervaar ons hoe lyding en dood, wanhoop en angs, ook ʼn pad tot nuwe lewe en hoop kan word.
Hierdie onbegryplike maar troosvolle paradoks van die lewe moet ons in die komende jaar weer gelowig leer omhels.
Jesus het; jy kan ook.
Here God, ons staan vandag opnuut in verwondering omdat U in Jesus onder ons kom woon het. Dankie vir Jesus en wat Hy ons vandag van U en van die lewe leer. Amen.
Carel Anthonissen