Die huwelik moet deur almal eerbaar gehou word. Wees in die huwelikslewe getrou aan mekaar (Hebreërs 13:4).
Die bekende sanger en liedjieskrywer Leonard Cohen was bekend daarvoor dat hy ʼn hele string vroue in sy lewe gehad het.
Deur sy lewe heen het hy dit moeilik gevind om hom aan net een lewensmaat te verbind.
Tog het hy die belang en waarde van die huwelik nooit misken nie. Inteendeel, in een van sy vele onderhoude het hy hom soos volg daaroor uitlaat:
“I think marrying is for very high-minded people. It is a discipline of extreme severity. To really turn your back on all the other possibilities and all the other experiences of love, of passion, of ecstacy, and to determine to find it within one embrace is a high and righteous notion. Marriage today is the monastery; the monastery is freedom.”
Elders verwys hy na die huwelik as die moeilikste geestelike geloofsgewoonte in die wêreld – een wat groot toewyding en intense selfondersoek vra.
Weliswaar sou ʼn mens Cohen se gedagtes oor die huwelik kon sien as ʼn idealistiese getob, ʼn dekmantel vir sy eie onwilligheid om hierdie klooster van vryheid voluit te betree, of om hom volledig aan een persoon te verbind.
Tog bly sy gedagtes oor die huwelik, ook vir Christene vandag, boeiend en hoogs uitdagend.
Ons vind daarin selfs ʼn weerklank van Hebreërs 13:4.
Here, ons bid vandag vir almal wat in vaste verbintenisse leef. Help hulle om altyd te weet dat hulle op heilige grond staan. Amen.
Carel Anthonissen