Hou jou ore oop vir die wysheid, span jou in om te verstaan. Roep insig by, vra na gesonde begrip. Soek dit soos jy silwer sou soek, spoor dit op soos ʼn verborge skat (Spreuke 2:3-4).
Leonard Cohen, die bekende musikant, het by tye aan akute depressie gely.
Self beskryf hy hierdie toestand met verskillende woorde.
Hy noem dit sy “somber oomblik”, ʼn “donker kamer sonder deure”, sy “melankoliese bui”, oftewel dít wat in die Christelike tradisie as acedia bekendstaan. Laasgenoemde dui op ʼn soort apatie waarin die oorweldigende gevoel ʼn verlies aan genade is.
Tipies van depressie het hierdie donker fases in Cohen se lewe hom soms totaal lamgelê en van sy energie beroof.
Belangriker is egter – veral vir ons wat ook dié toestand ken – hóé Cohen sy depressie leer hanteer en bestry het. Want, só het hy deurgaans gevoel, ʼn mens moet sélf iets daaraan doen.
In dié opsig het hy geleer sy beste opsie is ʼn vaste roetine (“a disciplined routine”). Vir Cohen was een van die belangrikste aspekte van hierdie roetine om allereers sy hand aan sy werk te hou of, soos hy dit gestel het: “Knuckling down and getting on with it.”
Daarnaas het hy in sulke donker dae hom ook doelbewus op gereelde tye van studie, meditasie en vas toegespits.
Weliswaar het dié roetine hom nie noodwendig van sy depressie genees nie. Tog, so het hy getuig, het dit hom gehelp om sy situasie vanuit ʼn nuttiger perspektief te betrag. Een wat groter wysheid en insig gebring het.
Uiteraard verskil depressie van persoon tot persoon, maar miskien kan Cohen se raad, wat direk by die Spreukedigter se woorde aansluit, jou in hierdie nuwe jaar tog troos en help.
Here, gee ons vandag die wysheid wat begin by die kennis van U en wat ons kan help om ons depressie met groter insig en moed te hanteer. Amen.
Carel Anthonissen