Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die geraamte van ons woede

As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ʼn dag kwaad afsluit nie (Efesiërs 4:25).

Baie mense oor die hele spektrum van ons samelewing is vandag kwaad.

Hiervoor is daar baie redes.

Dink maar aan die skreiende onreg, die tierende misdaad, die slordige en onverskillige gedrag op ons paaie, skaamtelose magsmisbruik, ongekende korrupsie, vals beloftes, blatante leuens, politieke hovaardigheid en laastens, maar nie die minste nie, die onaanvaarbare ongelykheid tussen mense.

Dit alles is dinge wat ʼn mens se bloeddruk kan opjaag.

En tog moet ons versigtig wees met ons woede, want woede kan op vreemde maniere boemerang en hom op ons wreek.

Tereg skryf iemand: “Laat ons nie ʼn fout maak nie. Dit is lékker om kwaad te word, om te kook, om gal te braak, om die ander te verwens en te vervloek, om jou selfs in te dink hoe jy hulle op hulle plek sal sit.” Maar, so herinner die skrywer ons ook:

“The chief drawback is that what you are wolfing down is yourself. The skeleton at the feast of anger can be you.”

Dus, ons kan maar kwaad word. Maar ons durf die potensiële skade wat onbeheerste woede aan onsself en ander kan aanrig nie onderskat nie. Ons moet veral weet hoe om ons woede in konstruktiewe protes en aksie om te skakel.

Here, dit is waar: Ons is party dae baie kwaad. Bewaar ons vandag van daardie woede wat onsself en ander kan skade aandoen. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.