Die volk wat in donkerte geleef het, het ʼn groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ʼn lig geskyn (Jesaja 9:1).
Een van die groot dwalinge van die Christelike geloof is die siening dat ʼn mens God se guns deur goeie werke of goeie dade kan verwerf.
Ek bly verbaas oor hoeveel Christene steeds die hoop koester dat God hulle darem sekerlik eendag genadig sal wees, want, so redeneer hulle: “Ons het darem in ons leeftyd ons bes probeer.”
Die een Skrifgedeelte wat hierdie opvatting sterk weerspreek, is Jesaja 9:1-6. Hier hoor ons hoe die volk Israel in die agste eeu voor Christus as gevolg van die Assiriese onderdrukking in groot duisternis gedompel is. Die ergste was dat hulle dit boonop verdien het.
En dan, uit die bloute, kom die aankondiging dat daar oor hulle ʼn lig begin skyn het – die lig van God se genade wat die duisternis sal verdryf, wat die juk van onderdrukking sal verbreek (9:3) en wat hulle lewe weer sal opvrolik (9:2). Wat so verbasend is, is dat dit sal gebeur sonder dat hulle daarvoor gevra, gebid of gewerk het.
Dít is wat God se genade beteken – God se onverdiende en vrye guns alleen. Dit is die wonderlike feit dat God ons aanvaar net soos ons is. Nog voordat ons selfs daarvoor kon vra. ʼn Bekende lied druk dit so mooi uit: “Voordat ek kon kies, kon vra, het U reeds my skuld gedra.”
Die vraag is natuurlik: Weet jy dat hierdie lig van God se genade vandag oor jou lewe skyn, maak nie saak hoe donker, tragies of uitsigloos jou omstandighede vir jou voel nie?
Here, dankie dat ek vandag weer onder die lig van u genade kan opstaan en gaan leef. Help my om dit raak te sien. Amen.
Carel Anthonissen