Maar deur die genade van God is ek wat ek is (1 Korintiërs 15:10).
Karen Blixen, die bekende Deense skrywer, het ʼn wonderlike begrip van die genade van God as vrye guns gehad.
Aangrypend verwoord sy dit by monde van ʼn eksentrieke karakter, die ambisieuse generaal Löwenhielm, in haar bekende kortverhaal Babette’s Feast.
In hierdie verhaal vertel Blixen hoe die generaal kortstondig terugkeer na ʼn dorpie waar hy lank tevore op die dogter van ʼn priester verlief geraak het. Tydens sy besoek ontmoet hy haar weer en woon hy ʼn unieke maaltyd by.
Die maaltyd, voorberei deur Babette wat vroeër ʼn uithalerkok by ʼn uitstekende restaurant in Parys was, verras nie net die generaal nie, maar open ook sy oë op ʼn onverwagse manier vir die genade van God.
In ʼn kort heildronk lig hy sy ontdekking toe:
“We have all been told that grace is to be found in the universe. But in our human foolishness and shortsightedness we imagine grace to be finite. For this reason we tremble … But the moment comes when our eyes are opened, and we see and realize that grace is infinite. Grace, my friends, demands nothing from us but that we shall await it with confidence and acknowledge it in gratitude. Grace makes no conditions and singles out none of us in particular. Grace takes all of us to its bosom and proclaims general amnesty. See! That which we have chosen is given us, and that which we have refused is also, and at the same time, granted us. Ay, that which we have rejected is poured upon us abundantly.”
Toe ek hierdie wonderlike stukkie lees, het ek nogal gewonder hoeveel van ons dit ken: hierdie merkwaardige ontdekking dat wat jy self gekies het ten diepste ʼn gawe is.
O Here, open ons oë vandag weer vir die wonder van u genade – u genade wat dikwels na ons toe kom wanneer ons dit die minste verwag. Amen.
Carel Anthonissen