Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is (Miga 6:8).
In Miga 6:1-8 – ons teks vir die week – luister ons in op ʼn ontstellende, maar hoogs bevrydende gesprek tussen God en sy volk.
Dié gesprek getuig van jare lange misverstand en vervreemding, en van ʼn worsteling om dit te oorkom.
Aan die een kant wil God weet wat Hy verkeerd gedoen het, waarmee Hy die volk vermoei het. Want dekades lank wou God net één ding doen: om sy volk met liefde te versorg en te lei (Miga 6:3-5). En nou blyk dit die volk het dit nooit só verstaan, erken of waardeer nie.
Daarvan getuig hulle apatiese en onverskillige lewe (Miga 3).
Die volk, weer, kla dat hulle God nie meer verstaan nie, dat hulle nie presies weet wat God van hulle verlang of watter offers hulle moet bring nie (Miga 6:6-7).
Hierop volg dan een van die mooiste tekste in die Bybel – een waarin God kort en kragtig opnuut sy goeie wil vir sy volk, ja, vir alle mense, uitspel: dat ons reg sal laat geskied, liefde en trou sal bewys en bedagsaam voor God sal leef (Miga 6:8).
Kortom, ons word gevra om ons opnuut in stilte en gebed aan God te verbind, om God se wil te leer ken. Want hier, in egte verbondenheid aan God, word al die waardes gebore waardeur ons lewe en die wêreld mensliker kan word.
O Here, U verklaar u liefde en wil vandag weer aan ons. Laat ons tog nie daaraan verby leef nie. Maak ons bedagsaam vir U en vir u wil. Amen.
Carel Anthonissen