Toe steek Jesus sy hand uit, raak hom aan en sê: “Ek wil. Word gesond!” (Matteus 8:3).
In die brose en wankelende huwelik van Jacob en Julia – die hoofkarakters in Jonathan Safran Foer se boek Here I am – was daar ʼn klein ritueel of gebaar wat hulle altyd gehelp het om die spanning te verlig.
Dit was om te bly uitreik na die ander, om mekaar liggaamlik te bly aanraak.
Wonderlik beskryf Foer die waarde van aanraking, veral in tye van tweespalt en vervreemding:
“Touch has always saved them in the past. No matter the anger or hurt, no matter the depth of the aloneness, a touch, even a light and passing touch, reminded them of their long togetherness. A palm on a neck: it all flooded back. A head leaned upon a shoulder: the chemicals surged, the memory of love. At times, it was almost impossible to cross the distance between the bodies, to reach out. At times it was impossible. Each knew the feeling so well, in the silence of a darkened room, looking at the same ceiling: If I could open my fingers, my heart’s fingers could open.”
Ja, as ons maar net ons trae en krampagtige vingers soms kan oopmaak om die ander aan te raak – hoe vlugtig en sag ook al – hoe sal die hart nie ook warmer vir die ander begin klop nie.
Want sien, die hart, soos Foer dit stel, hét vingers om met liefde en vergifnis na ander uit te reik.
Here, open vandag die stywe vingers van ons hart sodat ons die ander met liefde kan aanraak – net soos U met ons gedoen het. Amen.
Carel Anthonissen