Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand (Psalm 73:23).
Dat ons in ons eensame oomblikke kan weet God is altyd by ons, beteken nie ons moet passief leef nie.
Die afgelope week ontmoet ek ʼn vrou wat die pyn van eensaamheid ken.
Die lewe het in vele opsigte vir haar verkeerd geloop, veral ná ʼn hartseer egskeiding. Dit het haar na ʼn aftreeoord gedryf, asook na die rand van afsondering, sinisme en eensaamheid. Tog veg sy teen die eensaamheid; sy laat nie toe dat dit haar oorweldig of verlam nie.
Uit ons gesprek leer ek toe opnuut hoe ʼn mens jou konkreet teen die eensaamheid kan verset. Want hierdie vrou het, eerstens, haar kamer as ʼn hawe van rus ingerig. Hier luister sy musiek (Beethoven se Sesde Simfonie het juis opgeklink toe ek instap), kyk sy na haar mooi skilderye, geniet sy haar DVD’s en onthaal sy af en toe vriendinne.
En wanneer haar kamer te benouend raak, beweeg sy uit. Minstens een maal per week besoek sy ʼn koffiewinkel. Weliswaar doen sy dit alleen, maar tog bely sy: “Om so tussen mense te kom gee my altyd ʼn gevoel van geborgenheid en blydskap. Boonop ken die personeel my – dit help ook.”
Vir dié vrou is hierdie uitstappies die plek waar God haar aan die hand vat.
Here, vergewe ons dat ons so dikwels in ons eensaamheid vasval. Leer ons vandag weer hoe om dit te oorkom. Amen.
Carel Anthonissen