Nog ʼn bietjie slaap, nog ʼn bietjie sluimer, nog ʼn bietjie handevou en bly lê, en daar oorval die armoede jou soos ʼn rower, daar oorrompel die gebrek jou soos ʼn inbreker (Spreuke 6:10-11).
Nog iets waarmee mense wat ouer word sukkel, is die ervaring of vloek van verveeldheid.
Anders as vir baie jongmense, vir wie verveeldheid dikwels met “te veel”, met die oorvloed van voorregte en moontlikhede, saamgaan, is dit vir ouer mense net mooi die teenoorgestelde.
By hulle spruit verveeldheid dikwels voort uit die ervaring van te min, van verlies, van die gebrek aan ʼn duidelike lewensdoel. Vroeër het jy aktief gewerk. Jou werk was dalk as’t ware jou lewe. Jy was dalk so besig dat jy vir min ander dinge of selfs vir min ander mense tyd gehad het. Selfs vir stokperdjies was daar min ruimte.
En nou is die tyd van werk verby. Jy is afgetree. Of jy is, soos baie ander, sonder werk. Jy sit of lê rond; jy voel nutteloos; jy raak verveeld.
Maar weer, wie gelowig is, sien elke dag as ʼn gawe, as ʼn geleentheid om jouself te ontwikkel, om nuwe boeke te lees, om ander musiek te luister. Of as dit nie jou passies is nie, om stokperdjies te gaan soek wat jou dieper passies kan ontsluit.
Beter nog, as jy verveeld is, kyk rondom jou en begin iets doen, hoe klein ook al, wat tot voordeel van ander sal wees. Só, ontdek jy dalk, bou jy nie net aan God se koninkryk van liefde en vrede nie.
Jy oorkom ook die verveeldheid.
Here, vandag wil ons dit weer hardop vir onsself sê: “Wie op U ag slaan, sal nooit verveeld of arm wees nie.” Help ons om dit nie net te sê nie, maar dit ook te doen. Amen.
Carel Anthonissen