Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie (1 Korintiërs 9:26).
ʼn Paar maande gelede het ek die gedenkdiens van ʼn bekende tennisafrigter waargeneem.
Tydens my voorbereiding het dit my weereens getref hoe die Bybel, en by name Paulus, ons lewe op aarde meermale met ʼn wedloop vergelyk.
En wat ʼn treffende beeld is dit nie! Met dié beeld wou Paulus ons eerstens daaraan herinner dat die lewe, presies soos ʼn wedloop, ʼn bepaalde inspanning, oefening en dissipline verg. Alleen só sal ons dit regkry om ons Godgegewe gawes of talente volledig te ontwikkel – ja, om die beste wat in ons skuil na vore te bring.
Maar meer nog, soos met enige wedloop sal ons gedurende ons lewe nie net gevra word om ons goeie oomblikke, ons sogenaamde oorwinnings, met nederige dankbaarheid te vier nie; ons sal ook moet leer om die pynlike ervarings van teleurstellings en verlies met wysheid te hanteer.
Dit is nie altyd maklik nie. Veral nie as die wedloop van ons lewe, soos vir Paulus, ʼn doodstryd word nie. Want die wedloop van die lewe neem wel sulke wendings. Gelukkig het Paulus geweet sy lewe is in God se genadige hande en dat God, wat ook al gebeur, sy doel of droom vir hom sal verwesenlik.
Dit was dié wete wat Paulus gemotiveer het om met groot sekerheid uit te roep: “Ek hardloop dan ook soos een wat nie van sy doel onseker is nie.”
Hopelik kan jy dit ook vandag sê.
O Here, die wedloop van die lewe is soms swaar en vermoeiend. Gee ons vandag die krag om vol te hou en ons oë op U te rig. Amen.
Carel Anthonissen