As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie …! (Psalm 27:13).
Daar is verskillende redes waarom mense vandag sukkel om ʼn bewussyn van God te hê.
Anders gestel, om soos Moses in Psalm 90 die hoop te koester, en selfs daarvoor te bid, dat God sy werk, ja, sy liefde en goedheid, aan hulle sigbaar sal maak.
Behalwe vir die hedendaagse mens se uitgesproke twyfel en ongeloof, het die mens ook ʼn gedrewe en kunsmatige omgewing of kultuur geskep wat hierdie ongeloof bly voed. Wat dit moeilik maak om die spoor van die Goddelike in die gewone lewe raak te sien. Tereg merk Herman Hesse se karakter, Steppenwolf, in Hesse se gelyknamige boek op:
“It is hard to find the track of the divine in the midst of this life we lead, in this besotted humdrum age of spiritual blindness.” Maar, vervolg Steppenwolf dan: “That mission is our most profound calling.”
Inderdaad bly dit ons grootse roeping: om in die wedloop van die lewe op die uitkyk te bly vir tekens van die Goddelike, ja, van God se goedheid. En om toe te laat dat dié tekens ons lewe verlig, stempel en bevry.
Sodat ons, net soos die psalmdigter, kan uitroep: “As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie …” (Ps 27:13).
Here, vandag glo ek dat ek u goedheid sal sien in die land van die lewendes. Jesus het dit immers vir ons kom wys. Amen.
Carel Anthonissen