Boodskap vir Vandag

Search
Close this search box.
Search

Die hoop op ʼn lewe by God

Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou. Nou wag die oorwinnaarskroon vir my, die lewe by God (2 Timoteus 4:8).

Daar is nog één belangrike verwagting of hoop wat gelowiges in die goeie wedloop van die lewe kan koester.

Dit is dat hulle eendag ná die dood deel sal kry aan ʼn nuwe lewe by God. Paulus praat hiervan as ʼn oorwinnaarskroon.

Hoe groot dié hoop op so ʼn kroon by Paulus was en watter motiverende krag dit in sy lewe gevorm het, hoor ons duidelik in sy getuienis in 2 Timoteus 4:6-8. Ons hoor hoe hy aangehou het tot die einde toe; dat hy sy eindpoging selfs gesien het as die laaste greintjie krag wat hy, soos met ʼn drankoffer, in God se diens kon uitgiet.

En dit alles omdat hy geglo het in die belofte van ʼn oorwinnaarskroon, dit is, ʼn lewe by God anderkant die graf.

Kom ons wees eerlik: Nie almal vind dit vandag maklik om hierin te glo nie. Selfs gelowiges twyfel of hulle eendag Paulus se kroon sal bekom. Tog is dit al wat ons het: hierdie getuienis van Paulus en die ander apostels.

Die vraag is hoeveel gewig hierdie getuienis vandag nog by ons dra?

Here, ons weet nie wat anderkant die graf wag nie. Maar vandag wil ons opnuut vashou aan Paulus se troosvolle woord dat U daar sal wees. Vir ons is dit genoeg. Amen.

Carel Anthonissen

Inspirasievennoot

Boodskap vir Vandag is ’n reeks inspirerende elektroniese dagstukkies wat daagliks duisende lesers bereik. Ons doel is om Christene te bemoedig, uit te daag, te ondersteun en te inspireer.

Indien jy nie die daaglikse e-pos ontvang nie, maak asseblief seker dat jou SPAM-filters dit nie verwyder nie.
Jy besoek nou LiG, ons susters-publikasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse. LiG-getuig: Waar elke getuienis tel. By LiG is ons toegewyd om inspirerende stories te deel wat die hart aanraak en hoop bied. Jy besoek nou ons susters-organisasie se webtuiste, propvol inspirerende getuienisse.