Ek het my verlustig in die wêreld wat Hy gemaak het, die mense was vir my ʼn vreugde (Spreuke 8:31).
Die afgelope naweek tydens ʼn retraite wys die leier ʼn boeiende film, vervaardig deur ʼn gesoute fotograaf van die bekende National Geographic Society.
In dié film vertel die fotograaf van sy interessante werk. Veral hoe die lens van die kamera hom geleer het dat daar eintlik net twee maniere van kyk na die lewe is, twee maniere hoe ons met die lewe kan omgaan.
Óf jy sien die duidelike skoonheid van alles raak, selfs waar jy dit die minste verwag, en verbly jou daarin. Óf jy fokus op dit wat negatief, sleg en onaangenaam is.
Om sy standpunt te illustreer wys hy in die film ʼn paar merkwaardige foto’s – wyelensfoto’s van die asemrowendste natuurtonele, diere en verskynsels denkbaar. Maar dan, om te wys hoe ons sekere dinge kan miskyk, wys hy ook nabyskote van die kleinste en delikaatste plante en diere wat meestal vir die gewone oog onsigbaar is.
Dié film het my tot ernstige nadenke gestem, veral omdat ek besef het hoe blind en ongevoelig ʼn mens deur die lewe kan gaan.
En, soos die fotograaf dit gestel het, “how you can wallow in your own misfortune and in that which is bad and ugly”.
O Here, U het ons wêreld mooi en goed gemaak. Daar is soveel dinge wat reg is. Help ons om daarop te fokus en nie vas te steek by die negatiewe nie. Amen.
Carel Anthonissen