Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed (Romeine 12:12).
Die gebed van ʼn gelowige het ʼn kragtige uitwerking (Jakobus 5:16).
Om ʼn pad na my vyande se lewe te vind en hulle só te leer liefkry en waardeer, lyk met die eerste oogopslag werklik onmoontlik.
Selfs al weet ons God is met alle mense besig en God, selfs sonder dat hulle dit noodwendig weet, laat die spoor van sy goedheid in mense se lewe agter, bly dit moeilik om te dink hoe ons daardie spoor sal vind. Wat nog te sê te volg.
Gelukkig, so lyk dit, het Jesus van ons dilemma geweet. Want let net op: Wanneer Jesus ons oproep om ons vyande, oor wie God sy son ook laat skyn, lief te hê, vra Hy nie die onmoontlike nie.
Jesus vra dat ons, ten minste aanvanklik, net vir hulle sal bid. Dit is tog nie te moeilik nie: om elke dag, al is dit soms net in ʼn vlietende oomblik, te dink aan hulle wat jou vyand is of jou vyand geword het. En hulle naam voor God te noem.
Dit klink dalk na min, selfs onskuldig, maar wees gewaarsku: Hierdie ervaring leer ons dat wie dit aanpak om vir ʼn ander te bid, wie dit waag om die vyand se naam voor God te noem, mettertyd kan ontdek dat hulle anders na so ʼn mens begin kyk. Dat hulle soos God begin kyk: met dieper begrip en selfs met ongekende deernis.
En só begin die pad na die vyand duideliker en meer begaanbaar word.
Wil jy dit nie vandag, ja, op hierdie oomblik, waag nie?
O Here, vandag wil ek op my knieë gaan om te bid vir dié wat my seergemaak en veronreg het. Help my, want dit is moeilik. Amen.
Carel Anthonissen