“Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word” (Matteus 5:9).
Iemand wat die wins leer ken het wat opgesluit lê in die moed om jou vyande te leer liefkry, was Abraham Lincoln, ʼn voormalige president van Amerika.
Hy het eenkeer dié belangrike en insigvolle vraag gevra: “Vernietig jy dan nie jou vyand deur van hom ʼn vriend te maak nie?”
Die woord vernietig is in hierdie konteks ʼn baie sterk woord. Wat Lincoln waarskynlik bedoel het, was dit: Wie dit waag om die hand van vriendskap en vergifnis, selfs van skuldaanvaarding, na die vyand uit te steek, sal onverwagte deurbrake na ʼn mensliker en vredevoller samelewing ervaar. Want só begin jy die vyandskap en al die onreg en haat, misverstand en venyn tussen jou en die ander aftakel.
Dié dapper en verbeeldingryke ingesteldheid van Lincoln het hom op ʼn ironiese wyse sy lewe gekos. Hy is jare later doodgeskiet deur iemand wat bloedweinig verstaan het van die krag en wins van die liefde wat oor alle grense heen uitreik.
Tog staan Lincoln se lewe, net soos Jesus s’n, vandag nog as ʼn grootse baken van hoop en vrede langs ons lewenspad.
Dié baken kan ons maar volg.
Vandag maak U ons daarvan bewus dat vyandsliefde ʼn offer kan vra. Ook dit, Here, moet U ons vandag leer. Amen.
Carel Anthonissen