“As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle dan nog verwag” (Matteus 5:46).
In die gedeelte waar Jesus sy volgelinge oproep om hulle vyande lief te hê en só hulle identiteit as kinders van God duidelik te maak, is daar ʼn verdere perspektief wat ons maklik mislees.
Dit is dat daar ʼn bepaalde loon of wins opgesluit is in die inisiatief, selfs avontuur, om ons vyande lief te kry.
Beslis is dit, impliseer Jesus in Matteus 5:46-47, ʼn ander soort wins as in die geval van liefde tussen vriende of familie. Hier is amper nie eens sprake van loon nie. Die woord is byna nie gepas nie.
Maar in die geval van jou vyande, wanneer jy hulle kan leer liefkry, wen jy heelpad. Jy kan – so hoor ons tussen die lyne by Jesus – ʼn bepaalde loon verwag. Jy kan deel in winste en rykdomme wat jy jou, tot in hierdie stadium, waarskynlik nie kon voorstel nie.
Min van ons ken dit, maar wie wel dié vreemde vorm van liefde teenoor die vyand leer beproef en omhels, kan meestal nie uitgepraat raak oor die verryking wat daarin opgesluit is nie. Oor hoe nuwe wêrelde van vriendskap en hartlikheid, kennis en dankbaarheid onverwags oopgaan.
Wat meer is, só kry jy deel aan en help bou jy aan die vrede wat ons wêreld so broodnodig het.
Here, laat ek eerlik wees: Ek het geen benul wat dit vir my kan beteken om my vyande te leer liefkry nie. Neem daarom my hand en lei my. Amen.
Carel Anthonissen