Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredinge, saam met Christus lewend gemaak (Efesiërs 2:5).
Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees (1 Johannes 4:18).
Die grootste rede waarom ons sukkel om ons medemens, en veral ons vyande, lief te hê is vrees.
Vrees vir hulle andersheid – vrees dat hulle ons kan bedreig, van ons troon kan afstoot, ons kan beroof, ons skade kan berokken, en so meer.
Baie van dié vrese is natuurlik ongegrond en berus op ou en diepgewortelde persepsies en vooroordele. Dit word dikwels eers besweer die dag wanneer ons die ander leer ken en as ʼn medemens aanvaar – iemand wat ons lewe kan verryk in plaas van versuur.
Tog bly dit moeilik om ons vrese eenkant toe te skuif. Vrees bly ʼn diepgewortelde emosie wat amper outomaties en meestal op ʼn totaal irrasionele manier na vore kom sodra ons die ander, hetsy vreemdeling of vyand, sien of net van hulle hoor.
Die apostel Paulus het hierdie irrasionele vrese en skewe persepsies wat daarmee saamgaan goed geken. Daarom sy meedoënlose vervolging van Christene.
Dit was eers toe Christus hom voorgekeer en met sy liefde oorrompel het dat Paulus verander en sy lewe gewy het aan mense wat, soos hy, in vrees geleef het. Toe het hy geweet: Die liefde verdryf alle vrees.
Wat die vraag oproep: Weet óns dit? En laat ons toe dat die liefde van Christus ons vrese vandag en elke dag besweer?
O Here, gee ons meer van u allesinsluitende liefde sodat ons nie bang sal wees vir ander nie. Amen.
Carel Anthonissen